Much was made about the Goosen injury story - so here is a full report on it - Unfortunately in Afrikaans and I am not going to even attempt a translation - other than to say it seems to have been a storm in a teacup:-
Die Springbok-losskakel Johan Goosen sal reg wees om Vrydag hier teen die Bulle meer van sy Super-ritme te vind.
Goosen het vir ’n skandering gegaan nadat hy Saterdag sy arm in die Toyota Cheetahs se Superrugby-nederlaag teen die Leeus liggies beseer het.
Maar die Bok was gister reeds saam met sy Toyota Cheetahs-spanmaats aan die sweet om teen die Bulle op te staan.
Hoewel Goosen fiks is, het die skrumskakel Shaun Venter (enkel), vleuel Raymond Rhule (dyspiere) en stut Trevor Nyakane (been) nie saamgeoefen nie. Venter en Rhule behoort vandag weer in te val, terwyl Nyakane dalk meer rus gaan nodig hê.
Die Springbok-stut het al Saterdag teen die Leeus ’n bietjie las van die besering gehad en dit sal ’n slag wees as hy nie in die 23-tal kan wees nie.
Nyakane het Caylib Oosthuizen in die 47ste minuut vervang en honger gelyk om hom weer in die beginspan te vestig.
Volgens Hawies Fourie, die Toyota Cheetahs se agterlyn-afrigter, het Goosen se arm bloot te ver teruggebuig en is niks geskeur of verder beseer nie.
Hoewel hy nog nie op sy skerpste was nie en nie altyd die regte besluite teen die Leeus geneem het nie, het die Goose by tye tog sy ritme begin vind.
Hy het as voorsorgmaatreël nie gister aan sy span se kontaksessies deelgeneem nie. Goosen het eerder pale toe gekorrel terwyl sy spanmaats fisiek geraak het. Fourie is ook nie te bekommerd oor Goosen se stelskopwerk nie.
Goosen het teen die Leeus twee strafskoppe gemis, terwyl sy plaasvervanger, Elgar Watts, ook teen die einde ’n maklike strafskop verbrou het.
Daarteenoor het die Leeus-losskakel, Marnitz Boshoff, met al ses sy strafskoppogings geslaag om sy span met 21-20 te laat seëvier.
“Johan het een maklike skop gemis en Elgar het ook ’n maklike skop gemis,” het Fourie gesê.
“Die lange wat Johan heel eerste probeer het, is een wat niemand sommer tien uit tien keer gaan oorskop nie.”
Nadat Goosen ook verlede jaar ná ’n besering teruggekeer en aanvanklik met sy stelskopwerk gesukkel het, het die Toyota Cheetahs hom eers makliker stelskoppe laat waarneem voordat hy grotes aangedurf het. Dit het soos ’n bom gewerk. Maar Fourie het gesê die Toyota Cheetahs laat Goosen pale toe korrel wanneer hy voel hy dit wil doen."


