It linguistic jewels like this that makes me extremely and unapologetically proud of my mother tongue.
I am not even going to try and translate it because IMO no translation would do it justice. Luckily I know that there are a number of guys who would understand and hopefully appreciate it. It is about the lockdown from an Afrikaans speaking South African viewpoint.
Sorry for the English only speaking guys.
Here goes:
Dana Snyman op sy beste
‘n Waarheid wat diep sny en seermaak...
HERFS, 2020
Dit was die herfs toe ons bedreig is deur ’n ding wat jy nie met die oog kon sien nie, toe ons nie ons woonplekke sonder ’n goeie rede mag verlaat het nie en ons mekaar nie meer met die hand kon groet nie.
Die herfs toe ons vooraf te veel toiletpapier en te min wyn gekoop het.
Die herfs toe die kerk se deure op ’n Sondag gesluit moes bly en elkeen van ons ’n kundige was op Facebook oor enigiets van virologiese infeksies tot die Egiptiese gode in die jaar 234 vC. Die herfs toe almal verkeerd en gedeeltelik verkeerd en net jy reg was.
Die herfs toe ’n video-opname rondgestuur is waarop daardie bekende gospelsanger bevestig ons lewe nou in die eindtyd wat in Openbaring beskryf word en dat die antichris uit Sirië gaan kom. Kort daarna is hy egter reggehelp deur ’n pastoor van Pretoria. Die antichris gaan, volgens die pastoor, glo uit Turkye kom. Die tyd van die groot verdrukking het , aangebreek, en hierdie keer gaan dit nie help om te immigreer nie.
Die herfs toe ons aan onsself bewys het ons is ’n spesie wat nie met onsekerheid kan saamleef nie. Te veel onsekerheid laat ons soek na sondebokke en gryp na verregaande verduidelings wat die grense van die wetenskap oorskry. Bill Gates sit agter die hele ding. Dis die duister werkinge van die nuwe G5-tegnologie. Kyk, hier l? elf wilde-eende iewers in Brittanje in ’n smal teerpad dood. Dit is die Chinese. Dit is die Illimunati. Dit is God se bestraffende vinger wat na ons wys. Dé, vat hier. Sluk vir ons hierdie rou eier af.
Die herfs toe ons een-een deur winkels gedwaal het, soos bannelinge uit ’n Edward Hopper-skildery. Toe elke dag later soos ’n Sondagmiddag begin voel het en weer soos oorle Ouma gemmerbier begin maak het.
Die herfs toe daardie vrou in die huis met die toe gordyne, die vaal enetjie op skool wat haar maatjies graag by die juffrou verklik het, se lankverlore hoofmeisiedrome verwesenlik is. Neem ’n foto van elkeen wat buite sy erf is. Bel dadelik die polisie!
Die herfs toe jou plaaslike whatsapp-groep jou laat wonder of Jean Paul Satre nie dalk reg was toe hy ’n karakter in een van sy dramas laat laat s? het: “Die hel is ander mense.”
Die herfs toe jy skelm snags met my honde begin stap het en betrokke was in ’n geheimsinnige transaksie met ’n man in ’n pers Tazz in Shoprite se parkeerterrein waartydens ’n karton sigarette en ’n bottel Wellington-brandewyn van hande verwissel het. Die herfs toe jy laatmiddag gewag het vir die ibisse om verby te kom.
Die herfs toe die daardie ryk man tog maar besluit het om die een wat sy gastehuis vir hom jare al getrou bestuur, nie verder te betaal nie. Dit gaan sleg lyk om sonder daardie karige salaris wat hy haar gewoonlik per maand betaal het, in die hiernamaals aan te kom.
Die herfs toe ons die dodetal sporadies, soos die telling van ’n vyfdag-krieketwedstyd, begin volg het, toe ons aanhoudend vir mekaar ges? het: “Niks gaan ooit weer dieselfde wees nie.”
Die herfs voor die lang-lang winter wat enige dag nou gaan begin.
- Dana Snyman Skrywer